Hierdie gesprek toon eerstens aan dat daar hoop is, want ons wil beter doen.  Vriende, ek is daarvan oortuig dat ons met só gesindheid nie teleurgestel gaan word nie.

Deur Philip de Jager

Onderstebo.  Agterstevoor.  Heeltemal deurmekaar.  Alle gesinne beleef soms sulke tye.  Maar die afgelope paar maande is dit waarskynlik geen gesin gespaar nie.  Ons is wel nie almal in dieselfde bootjie nie.  Ons is nie almal op dieselfde plek op die wye groot oseaan nie.  Maar ons is in dieselfde storm.

Dit is geensins ‘n relevante vraag om te vra: Hoe gaan ons dié een mis of om dit seil nie?  Want bokant ons almal dreig onweerswolke steeds.  Tóg kan ons gesels oor hoe om beter te doen in taai tye.  Hierdie gesprek toon eerstens aan dat daar hoop is, want ons wil beter doen.  Vriende, ek is daarvan oortuig dat ons met só gesindheid nie teleurgestel gaan word nie.

Ek nooi jou uit om hier om die tafel te kom sit, en hande te vat terwyl ons gesels oor hoe om beter te doen in taai tye.

Ons kan dit nie sonder Jesus doen nie

Ons vat mekaar se hande.  En ons bid saam.  Saam praat ons in gebed met die Here van ons belydenis.  Die God van ons hoop.  Hy is ons toevlug.  Ons herinner mekaar daaraan dat dit reg is om met Jesus oor ons vrae en vrese te gesels.  Dit is okay om met Jesus oor ons teleurstellings te gesels.  Ons herinner mekaar daaraan dat Hy deur die weerloosheid van gewone mense geraak word:

“En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.”
[Matt. 9:36]

“Jesus het geween.”
[Joh. 11:35]

Ons herinner mekaar ook daaraan, en bevestig deur saam te bid, dat ons die Here vertrou.

Die waarde van roetine

Roetine bewerkstellig sekuriteit.  Roetine vestig dissipline.  Evalueer julle roetines en moet nie huiwer om nodige aanpassings te maak nie.  Dit is van kardinale belang dat die gesin, indien dit nodig is, nuwe roetines moet vasstel en vaslê.  Dit help die gesin om ‘n mate van normaliteit te beleef in onseker tye.  Dit sal gewis ook daartoe bydrae dat die gesinslewe gelukkiger is en gesinslede beter verstaan wat van mekaar verwag word.

Sorg vir “magic

Wees kreatief om asemrowende oomblikke te skep.  By die huis.  Hierdie “magical moments” het nie nodig om geld te kos nie.  Ons kan dit ook vir mekaar sê: Alles het nie altyd nodig om met somber-erns te geskied nie.  Julle kan alledaagse dinge; selfs dit wat deel van julle gesinskultuur en roetine is, net anders te doen: Doen byvoorbeeld moeite om die etenstafel mooi te dek; dalk volgens ‘n tema.  Wie sê julle moet tot Kersfees toe wag net om die tafel op te dollie?  Maak dit spesiaal.  Komaan, julle kan dit doen.

Ten slotte …

Daar is waarlik hoop vir die gesin.  Glo dit.  Dit is juis wanneer julle hande vat om saam te bid en saam te werk dat julle in jul eie gemoed hoop vir julle gesin skep.

Geniet dit.

Mag die vrede van God julle beskutting wees.

Jy is welkom om my te kontak by admin@leefdiewoord.co.za