Wees eerlik

“En die Here sê: As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant – en hy sou julle gehoorsaam wees”  (Luk. 17:6).

Jy kan nie dinge hanteer wat jy nie bereid is om te konfronteer nie – en daarom moet jy eerlik met jouself kan wees.
Om in ontkenning te leef is nie ‘n wyse strategie vir die lewe nie.  Dit is ook nie geloof nie.
Geloof word nie geïntimideer deur die dinge wat jy by die naam noem nie.

Kyk weer

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees”  (Matt. 6:22).

Dit is belangrik dat ons dinge moet sien vir wat dit is – sodat ons dit kan hanteer soos dit hanteer moet word.
Indien jy bereid is om ‘n student van die lewe te wees wat ook fyn daarop ingestel is om die influistering van die Heilige Gees te hoor, dan word lewensomstandighede geleenthede waaruit jy belangrike lesse leer; en jy sal insig en wysheid kan verkry.

Wat leer jy?

“Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê”  (Rom. 15:4)

Noudat jy weer gekyk het en weer geluister het, wat is die lesse wat jy leer?
Wat leer jy uit die Woord ten opsigte van jou hantering van omstandighede?
Miskien is dit omdat jy vorige lesse geïgnoreer het dat jy jouself in die bepaalde predikament bevind.
Is jy bereid om ‘n lewenslange student van die lewe te wees?

Begin weer

“Jy het my hard gestamp om my te laat val, maar die HERE het my gehelp”  (Ps. 118:13).

Die lewe gebeur met ons almal.  Oorwinnaars is nie mense wat nie omgestamp word nie, dit is mense wat opstaan.  Wat met die Hulp van die Here opstaan – en VOLUIT leef.  Al is dit een tree op ‘n slag.
Onthou die lesse wat jy leer, en pak die lewe anders aan.  Dit is eenvoudig die waarheid: jy nie kan verwag om ander resultate in die lewe te verkry indien jy aanhou om dinge op die dieselfde manier te doen nie.
Begin weer!

Ek vertrou dat hierdie oordenking en Bybelstudie vir jou betekenisvol sal wees.
Jy is welkom om my te kontak by: admin@leefdiewoord.co.za

Onthou ons motto: Waak. Staan in die geloof. Wees manlik. Wees sterk.

Groete
Philip