Lees jou Bybel elke dag
Deur Philip de Jager
Hierdie laaste paar dae van 2024 is ‘n gulde geleentheid om nabetragting te doen oor die jaar wat nou haas na sy einde. Moontlik het jy ook reeds sekere nuwe doelwitte vir DV 2025 in die vooruitsig. Sonder om oor (sogenaamde ) nuwejaarsvoornemens uit te brei (terloops, ek dink ‘n intensionele leefstyl met bepaalde doelwitte kan van groter waarde kan wees), wil ek tog vra: Wil jy dit nie gunstig oorweeg om in 2025 jou Bybel (weer) deur te lees nie. En nie sommer net lees nie. Lees met die begeerte om God beter te leer ken. Lees met die begeerte om jou lewenswyse met Sy karakter te belyn. Lees met die begeerte om praktiese maniere te vind waarop jy jou Christenskap op so manier kan uitleef dat die Groot Opdrag (Matt. 28:19) die gevolg daarvan sal wees.
Moet nie die fout begaan om te dink dat hierdie stelselmatige en gedissiplineerde deurlees van die Bybel, Bybelstudie vervang nie. Gewis nie. Jy moet tekste ondersoek, en daarvoor moet jy tyd maak. En wanneer ons dit doen, hou die wyse raad en voorskrif voor oë:
“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
[II Tim. 2::15]
Terug by Bybellees. Wanneer jy die Bybel stelselmatig deurlees sal dit nie net jou geestelike groei bevorder nie, jy sal ook persoonlik beleef dat jou begrip van die Bybelse verhaal vergroot en jou kennis aangaande ons Christelike geloof en lewe vollediger raak.
Diepgaande begrip
‘n Sistematiese leesplan wat gedissiplineerd gevolg word, help om die Bybel in sy geheel te verstaan en die konteks en verband van die Skrifte te waardeer. Verkeerde interpretasie kan dus beter voorkom word terwyl die bedoeling en betekenis van die teks in die groter geheel van die totale Bybelse inhoud daarvan verstaan kan word.
Volledigheid
Wanneer jy die Bybel stelselmatig deurlees help dit jou om ‘n volronde kennis van die Bybel te kry en dit bring byvoorbeeld ook minder bekende tekste onder jou aandag sodat die volle boodskap van die Bybel vir jou sal oopgaan.
“Begeer jy om God se stem te hoor? Lees jou Bybel hardop.”
Wilmari van Wyngaard
2025 Bybel leesplan
Ons wil jou graag ondersteun in hierdie voorneme om jou Bybel in 2025 deur te lees. Daarom het ons ‘n daaglikse leesplan saamgestel. Jy kan dit gratis aflaai en gebruik. Stuur dit gerus vir jou familie en vriende aan. Jy kan hierdie leesplan ook direk met jou kalender (Google of Outlook) integreer.