Gebed as gesprek
Deur Philip de Jager
Gebed is ‘n gesprek. Dit is korrek. In die eenvoudigste definisie en beskrywing van wat gebed is, sê ons dat gebed ‘n gesprek is. ‘n Gesprek met God. Dink vir ‘n oomblik hieraan: Ons kan met God gesels. Is dit nie fantastiese nuus nie! Dit is juis omdat gebed ‘n gesprek met God is dat ons met vrymoedigheid kan sê dat God toeganklik is.
Gesels met Hom soos wat goeie vriende wie mekaar se vertrouelinge is met mekaar gesels. Dit is reg, jy kan met vrymoedigheid met God gesels … oor enige iets. Moet nie huiwer om jou hart voor Hom uit te stort nie. Maak jou behoeftes en begeertes aan Hom bekend.
“6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
[Fil. 4:6, 7]
Ons let op: In Fil. 4:7; direk nadat Paulus ons aangemoedig het om in gebed tot God te nader, dat vrede wat alle verstand te bowe gaan in ons sal posvat. Dink hieraan: Om te praat is terapeuties. Dikwels nadat ons met iemand gesels het, verkry ons beter perspektief op sake. Wanneer ons met iemand gesels oor die dinge wat ons kwel, bring dit ‘n tipe gemoedsrus. Dit is waarskynlik nie so buitensporig om te dink dat gebed ook terapeuties is nie. Moet nie stilbly nie. Praat! Praat met iemand wat verstaan – praat met God.
Ons word deur die Skrifte aangemoedig:
“Bid sonder ophou.”
[I Th. 5:18]“Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging;”
[Kol. 4:2]
Maak daagliks tyd om te bid
Jy sal nie tyd vir gebed hê indien jy nie tyd daarvoor maak nie. Om hierdie geestelike dissipline in jou lewe te vestig is dit raadsaam om doelbewus ‘n spesifieke tyd en plek vir gebed te skeduleer. Natuurlik is dit nie die enigste tyd of plek waartydens jy moet bid nie, want jy kan enige tyd en enige plek met God gesels – immers, bid sonder ophou.
Gebedsjoernaal
Hou ‘n gebedsjoernaal. Skryf jou gebedsversoeke neer, met die datum waarop jy daarvoor begin bid het, en die datum waarop jy die antwoord of deurbraak gekry het. Sodoende orden jy jou gebedslewe en dit sal jou geloof bou wanneer jy met verloop van tyd opmerk hoe ons Hemelse Vader al vir jou uitkomste bewerkstellig het.
Danksegging
Sê vir die Here dankie – vir alles! Daar is so baie dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Wanneer ons begin om die Here te dank vir die dinge wat ons het en wat ons geniet – sal ons nie in die strik van onvergenoegdheid trap nie, en sal ons vreugde vind. J a, selfs vreugde ten spyte van die storms van die lewe.