Om te vas

Deur Philip de Jager

Kortom, beteken vas dat jy jouself van voedsel weerhou vir geestelike redes.  Let op: “vir geestelike redes.”  Om vir enige ander redes nie te eet nie, mag wel ‘n vas genoem word, maar ons is nie nou besig met voorskrifte of voorstelle ten opsigte van een of ander dieet nie.

Ons vind in die Bybel talle voorbeelde van verskillende persone wat op verskillende maniere en vir verskillende tydperke gevas het.  Dit is dus duidelik dat daar nie vasgestelde voorskrifte is nie, want dit gaan oor die motief van jou hart  (Jes. 58:3-11) wat jou lei om jouself op ‘n bepaalde manier voor God te verootmoedig.

Waarom vas jy?

Deur te vas verklaar ons dat; net soos ons liggame hunker na voedel en water wanneer ons honger en dors is, net so hunker ons om versadig te word met God se voorsiening vanweë sy genade, goedheid, grootheid en getrouheid.  Alhoewel die woorde van Ps. 42 nie spesifiek oor vas handel nie, vind ons tog ‘n treffende Illustrasie van die betekenis van vas in die woorde van die psalm:

2 Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!
3 My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?”
[Ps. 42:2-3]

Vas kan persoonlik wees

Ons vind talle voorbeelde hiervan in die Bybel, byvoorbeeld:

Daniël  (Dan. 10)
Anna die profetes  (Luk. 2:37)
Jesus Christus  (Matt. 4:1, 2)
Cornelius  (Hand. 10:30)
Paulus  (Hand. 9:9, II Kor. 11:27)

Vas kan korporatief wees

So kan ons dus as ‘n geloofsgemeenskap saam vas.  Weereens vind ons talle voorbeelde in die Bybel van korporatiewe vas-geleentheid wat uitgeroep was:

Op die groot Versoendag  (Lev. 23:27).
Voordat die volk uitgetrek het om oorlog te voer  (Rigt. 20:26-28).
Ester versoek die volk om te vas  (Ester 4:16).
Joël versoek die volk om te vas  (Joël 2:15).
Jósafat versoek ‘n nasionale vasdag  (II Kron. 20:1-4)
Voordat die Volk na Jerusalem uit ballingskap teruggekeer het  (Esra 8:21-23).
Die gemeente  (Hand. 13:2).

Die formaat en tydperk

Normale vas

Geen voedsel word geneem nie, maar daar word wel water gedrink.  Jesus in die Woestyn vir 40 dae en nagte so gevas (Matt. 4:2 … die teksvers dui aan dat Jesus honger geword het, en nie honger en dors nie, wat tog logies sou wees indien Hy vir 40 dae niks geëet en gedrink het nie).

Gedeeltelike vas

Net sekere voedselsoorte en vloeistowwe word weerhou.  Daar word wel water gedrink.  Moet nie uit grootheidswaan hierdie tipe vas as minderwaardig beskou of dit bloot net ‘n sacrifice noem nie.  Moet nie die toewyding van ander diskrediteer omdat jy meen jy is beter nie.

Daniël en sy vriende het vir 10 dae hierdie vas gevolg (Dan.1:12).
Daniël vas vir 21 dae (Dan. 10:2, 3).

Absolute vas

Geen voedsel of geen water geneem nie:

Moses vir 40 dae en nagte  (Deut. 9:9)
Esra  (Esra 10:6).
Ester versoek die Volk om so te vas  (Ester 4:16).
Paulus na sy bekering  (Hand 9:9)