Laat ons die Here loof

Deur Philip de Jager

Ons lees in die Goeie Woord van die Here:

“Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.
[Hebr. 13:15]

Ons belyf dat Jesus Christus die Seun van God is, en dat Hy ons Verlosser is.  Daarom is ‘n loflied gepas.  Om gedurig aan die Here ‘n lofoffer te bring, is om regdeur ons dag en ongeag die omstandighede van ons lewens – altyd die Here se lof te besing.  En ons kan dit doen, want die Here is goed.  Al gaan dit nie noodwendig altyd met ons goed nie.  En dit is juis omdat ons deur Jesus Christus aan God ‘n lofoffer bring dat ons loflewe nie fluktueer of verander soos met die ommekeer van die wind nie.  Want Hy verander nie (Hebr. 13:5).  En omdat Hy nie verander nie, verander ons lof nie … immers, is ons lofprysing nie veronderstel om te verander nie.

Die hart van lofprysing

Lofprysing is die reaksie van ons harte om die grootheid en goedheid van God erken.  Die Psalmis verklaar: “Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel” (Psalm 9:2).  Lofprysing is meer as woorde – dit is die uitdrukking van ons liefde, dankbaarheid en eerbied vir God.  Wanneer ons God prys, haal ons ons oë af van ons omstandighede en ons fokus op Sy karakter: Sy heiligheid, liefde, genade, goedheid, grootheid en getrouheid.  Dit skep ’n atmosfeer van geloof en verwagting wat groter is as enige iets wat ons in die lewe mag tref.

Toe Paulus en Silas in die tronk was, het hulle God geloof: “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister” (Hand. 16:25).  Hulle het nie teen die trok vasgekyk nie.  Nee!  Hulle fokus was op God, en God het vir hulle in hul middernagtelike omstandighede ‘n wonderwerk bewerkstellig:  “En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak” (Hand. 16:26).

Deur lofprysing word ons fokus reg ingestel

Ons lof behoort altyd op God te fokus.  Nie bloot net op wat Hy doen nie, maar wie Hy in wese is.  Soos die Psalmis wil ons ook uitroep:

“o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele.”
[Ps. 8:2]

Die Here ons God is waarlik lofwaardig: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Eks. 15:11).  Daarom sing ons tot die eer van God:

“Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.”
[I Tim. 1:17]