Skryf dit neer

Deur Philip de Jager

Het dit al met jou gebeur dat jy iets treffends hoor en dan vir jouself sê: “Ek moet dit neerskryf sodat ek dit nie vergeet nie.”  En het jy dit toe gedoen? 

Om ‘n geestelike joernaal te hou gaan oor baie meer as om net inligting te dokumenteer.  Deur middel van ‘n joernaal kan jy die jou geestelike reis en jou ervaring van God se betrokkenheid in jou lewe dokumenteer.  Wanneer jy ‘n joernaal hou skep jy vir jouself ‘n ankerpunt in die hede en ‘n verwysingspunt vir die toekoms.

Daar is nie ‘n teksvers in die Bybel wat spesifiek die praktyk van ‘n geestelike joernaal aanbeveel nie.  Maar daar is verse wat die belangrikheid van nadenke, selfondersoek, en die herinnering aan God se werk in ons lewe beklemtoon.  Hierdie beginsels kan geïnterpreteer word as die basis vir die hou van ‘n geestelike joernaal:

1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.”
[Ps. 1:1-2]

“Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
[Fil. 4:8]

Dit help jou onthou

Dr. Gustav Gous maak die stelling: Dit is beter om ‘n kort potlood te hê as om jou op ‘n goeie geheue te beroep.  Dit beteken dat dit beter is om goed neer te skryf.  Wanneer jy ‘n joernaal hou sal dit jou help om insidente en insigte te onthou.  En wanneer jy dit weer lees, kan dit jou geloof versterk.  Wanneer jy dit weer lees kan dit jou herinner aan die goedheid, grootheid, getrouheid en genade van God.

Dit help om jou gedagtes te orden

Wanneer jy goed begin neerskryf vind daar ‘n proses plaas waartydens uitdrukking aan gedagtes gegee word en waartydens meer duidelikheid oor ‘n situasie verkry kan word.  Om jou gedagtes te dokumenteer vereis van jou om tot stilstand te kom en te dink.  Dit help jou met die sistematiese uitpak van gedagtes en om dit te groepeer.  Deur middel van ‘n joernaal skep jy vir jouself die geleentheid om dieper beskrywings van jou belydenisse en belewenisse te maak.  Dit kan ‘n positiewe manier wees waarop jy met jouself in gesprek tree.  Hierdie innerlike gesprekke kan groot terapeutiese waarde hê.

Dit gee jou insig in jou geestelike lewe

Jou joernaal is ook soos jou geestelike spieël.

12 Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd
13 en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade.”
[Ps. 77:12-13]

Jy kan byvoorbeeld aantekeninge van preke in jou joernaal maak.  Deur dit te doen kan jy ‘n duidelike geloofsvorming strategie vir jouself ontwikkel.  Wanneer jy byvoorbeeld weet dat jy ‘n bepaalde persoonlike uitdaging het, byvoorbeeld ‘n kort humeur, kan jy na preke daaroor luister of artikels daaroor lees; en uit jou besinning in jou joernaal ‘n strategie begin ontwikkel om sensitief teenoor die inspraak van die Heilige Gees ‘n Gees-beheerde lewe te leef.

Die doel is om God te verheerlik terwyl jy die goue draad van sy genade en liefde regdeur jou lewe gewaar – en jy dit neergeskryf het om jouself deurlopend daaraan te herinner.  So word jou geloof gevorm en gebou.