Kom weg uit die geraas
Deur Philip de Jager
Wat is dit met die mens dat ons altyd wil jaag?! Of hoekom is stilte vir ons ongemaklik? Een van die grootste leemtes in ons lewens is waarskynlik die onvermoë om alleen te wees en in afsondering te gaan. En hoekom is dit so moeilik? Het ons aan geraas verslaaf geraak? Het ons aan aandag verslaaf geraak? Het ons aan besig-wees verslaaf geraak?
Wanneer ons vanuit ‘n geestelike perspektief oor afsondering en stilte reflekteer, dan lei dit ons om in ons Hemelse Vader se arms in te hardloop om deur Hom verkwik te word en insig in Sy leiding vir ons lewens te kry sodat ons die lewe in die oë kan kyk. Ons moet waaksaam wees dat besig-wees nie die vyand van ons geestelike lewe word nie, selfs, wanneer ons so besig raak met die dinge van die Here dat ons nie by die Here van die dinge uitkom nie.
Jesus het vir ons die voorbeeld gestel
Wanneer ons die geestelike dissipline van afsondering en stil-word beoefen, volg ons ook in die voorbeeld wat Jesus vir ons nagelaat het. Ons lees byvoorbeeld:
“En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.”
[Matt. 14:23]
En,
“En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid.”
[Mark. 1:35]
Deur stil te word en in afsondering te gaan, volg ons in Jesus se voetstappe. Omdat Jesus dit toegepas het is dit reg om te redeneer dat ons dit nie kan bekostig om dit nie te doen nie.
Hier is ‘n paar praktiese wenke om te oorweeg
Skeduleer ‘n spesifieke tyd in jou dag
Neem jou persoonlike ritmes en roetine in ag. Jy gaan nie hiervoor tyd hê totdat jy tyd gemaak om hierdie dissiplines te beoefen nie. Die bekende John en Charles Wesley (twee van nege kinders) skryf oor hulle moeder, Susanna Wesley, wat haar voorskoot oor haar kop gegooi het om daardeur aan te dui dat sy in haar plek van stilte en afsondering was. En dat hulle haar hiervoor onthou en respekteer.
Sorg dat jy nie gesteur sal word nie
Geen musiek nie. Absolute stilte. Onthou: die fokus is om in afsondering te wees en stil te word. Natuurlik kan daar later heerlike lof en aanbidding geskied. Maar word eers doelbewus stil sodat jy bewus kan raak van die teenwoordigheid van die Here. Stel jou hart en gedagtes oop om ontvanklik te wees vir die inspraak van die Heilige Gees. Dit is nou tyd om te luister!
Hou ‘n joernaal gereed
Skryf die gedagtes of teksverse neer wat in jou hart opkom. Dokumenteer die inspraak wat die Gees van God in jou lewe gee. Wanneer jy dit neerskryf het jy ‘n spesifieke verwysingspunt en kan jy altyd daarna terugkeer vir duidelikheid. Lees gerus meer oor joernaal-hou hier.