Wees gasvry
Deur Philip de Jager
Ons gesprek oor gasvryheid laat ons net weereens besef dat die Christelike godsdiens baie prakties van aard is. Wanneer ons die Skrifte ondersoek merk ons ook op dat gasvryheid nie bloot net ‘n prysenswaardige karaktereienskap is wat geopenbaar moet word nie, maar dat dit wesenlik deel van ‘n kind van God se lewe moet wees.
Ja, gasvryheid is ‘n geestelike saak
Ons vind in die Nuwe Testament 7 verwysings na die aangeleentheid van gasvryheid, naamlik: Rom. 12:13; I Tim. 3:2; I Tim. 5:10; Tit. 1:8; Hebr. 13:2; I Pet. 4:9; III Joh. 1:10. Tydens Jesus se aardse bediening merk ons ook op dat Hy dikwels in ander mense se huise ontvang was, en ‘n beduidende gedeelte van sy aardse bediening vanuit huise geskied het, dus weereens in die konteks van gasvryheid.
“En toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors, en Hy genees haar.”
[Matt. 8:4]
En,
“Kort nadat Jesus Matthéüs geroep het om Hom te volg lees ons dat Hy in die huis aan tafel was en dat daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan het.”
[Matt. 9:10]
Ook in die geskiedenis van die vroeë Christelike kerk merk ons op dat gasvryheid; om dus mense in jou huis te ontvang en te onthaal, nie vreemd was nie
“En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet,”
[Hand. 2:46]
In Hand. 10:1-46 lees ons hoe Petrus en Cornelius mekaar per goddelike afspraak ontmoet, en hoe Petrus die gasvryheid van Cornelius beleef. In Hand. 16:1-40 lees ons van Lydia, die purperverkoopster, en haar hele huishouding se bekering en hoe sy aangedring het dat Paulus, Silas en Timótheüs by haar mos tuisgaan. Hand. 18 verwys ook na die gasvryheid van Justus, Priscílla en Aquila.
Dit is duidelik:
“Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.”
[Hebr. 13:2]
Moet nie gasvryheid verhinder nie
Vriende, ons moet mekaar aanmoedig – en nie verhinder nie – om gasvry te wees. In III Johannes lees ons die mooi getuienis van Gajus en klem word ook op sy gasvryheid gelê (:5-8). Die Apostel Johannes het ook die vertroue uitgespreek dat Gajus dieselfde gasvryheid teenoor Demétrius (:12) sal bewys. MAAR! Ons lees dat Diótrefes geensins gasvry was nie (:9-10), en dat hy die gemeente ook verhinder het om gasvryheid te betoon – hy het selfs diegene wat gasvry wou wees uit die gemeente gewerp. Hierdie optrede word prontuit beskryf as kwaadwilligheid en om nie te leef met ‘n bewustheid van die karakter van God nie (:11). Die Apostel Johannes stel dit ook duidelik dat hy persoonlik met Diótrefes die sake sal uitsorteer (:10).