Die kosbaarste Boek
Deur Philip de Jager
Die kosbaarste boek is die Bybel. Ons het dit in die Sondagskool gesing. Dit is my oortuiging dat hierdie merkwaardige boek steeds die Boek van alle tye is.
Die Bybel het behoue gebly
Dit is die Woord van God wat deur die eeue vir ons behoue gebly het. Dit is ‘n Boek wat miljoene mense aanhou fassineer. Ons glo dit wat in die Bybel geskrywe is en bely dat die Bybel vir ons die reël vir geloof en lewe is. Daarom is die deurslaggewende vraag altyd: Wat sê die Bybel?! Dit is hoekom die Bybel steeds relevant is. Ons kan dit wat daarin staan steeds vandag met gerustheid glo – en leef.
“16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
[II Tim. 3:16, 17]
God kom aan die Woord
Deur die Bybel kom God aan die woord, en ons slaan ag op wat Hy ons leer. Deur die Bybel maak God Homself aan die mensdom bekend en sy Woord bring lewe, wysheid en rigting. Die Skrif is deur God geïnspireer en bied waarhede wat ons geloof versterk en ons lewens vorm. Wanneer ons met oop harte na die Bybel gaan, ontdek ons God se karakter, sy plan van redding en sy wil vir ons lewens. En wanneer ons ons lewens daarvolgens inrig beleef ons vryheid, vreugde en vryheid.
“Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.”
[Ps. 119:11]
En,
“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.”
[I Th. 2:13]