Die moed om weer op te staan
Philip de Jager
Vriende, kom ons gesels oor die moed om weer op te staan. Om die lewe in die oë te kyk, en aan te gaan. Dit is nie altyd maklik nie. Maar dit is moontlik, en bo en behalwe dat dit moontlik is, is dit noodsaaklik. Die lewe staan nie stil nie, en wanneer ons leer om ook nie stil te staan by die seerkry, teleurstellings of verleentheid van ons foute nie, sal ons spoedig merk dat hierdie moeilike omstandighede nie blywend is nie.
Wanneer ons onsself heelhartig daartoe verbind om die seerkry, teleurstellings of verleentheid van foute te hanteer en sinvol verwerk, kan dit die kosbare vrug van geduld, karakter en hoop (Rom. 5:3-5) tot gevolg hê. So kan ons leer om deur ons pyn te groei! Luister, die man wat aan gister vashou, sien nie die sonsopkoms van more nie. Vandag is waarlik die môre waarop jy gister gehoop het. Ek het by 'n wyse vriend geleer: The well from which my laughter flows, is often filled with my tears (George Knell).
Ons staan nie uit ons eie krag op nie. Nee! Die Here help ons op, as ons Hom vra. Hy ondersteun ons deur sy kosbare Gees in ons innerlike mens. Hy maak ons weer sterk deur die bevestiging van sy Woord. Die moed om weer op te staan spruit is aan die Here te danke, want Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte meer het nie (Jes. 40:29).
Lees
Ps. 118:13
Vorige oordenkings
Diep en stiller
Philip de JagerWanneer jy na die water luister soos dit oor klippe in die rivier kibbel, is dit dikwels lawaaierig waar die water nie diep is nie. Waar die water dieper is, is dit dikwels stiller. Met hierdie beeld in gedagte, wil ek skryf oor dieper en stiller. In...
Diep en vergenoegdheid
Philip de JagerIn DV 2026 soek ek nie na groter dinge nie. Ook nie na meer van dit of meer dat nie. Ek wil ook nie so besig wees om vir myself naam te maak - dat Jesus sou voel Hy is die gelukkig toeskouer by een of ander 'n celebrity show ... en hopelik kan Hy 'n...
Jy leef my raak
Philip de JagerDaar is mense wat 'n groot indruk op ons lewe maak. Mense wat ons raak leef. Hul doen dit deur hulle mooi gesindheid teenoor ons, hulle hulpvaardigheid en hulle fyn ingesteldheid teenoor ons. Daardie mense wat soms so uit die blote vir jou 'n...


