Passievol en uitverkoop

Philip de Jager

06/06/2026

Wanneer ons passievol oor iets is sal ons daaraan uitverkoop wees.  Bedoelende dat ons nie verskonings sal soek om nie ons onverdeelde aandag aan die saak te gee nie.  Ons het ook nie iemand nodig om ons aan ons verantwoordelikhede te herinner nie.  Ons word deur die saak self gemotiveer.  Daarom is hierdie passievolle toewyding meer as net 'n vurige begeerte, dit is 'n innerlike dryf.

Om passievol oor iets te wees en daaraan uitverkoop te wees is meer as om net 'n belangstelling in 'n saak te hê.  Wanneer ons passievol en uitverkoop is aan die saak wil ons in dit belê met die beste van onsself, ons tyd en watter hulpbronne ons ook al tot ons beskikking het.

Vriende, ons is die Here so onverdeelde toewyding verskuldig, om ongeag waarmee ons besig is altyddeur aan Hom eer te bring (I Kor. 10:31).  Tereg het iemand eenmaal opgemerk: "As ons daarvan beskuldig sou word dat ons die Here dien, sal daar genoeg bewyse gevind kan word om ons skuldig te bevind?"  Genadiglik, wanneer ons soms met hierdie passievolle toewyding sukkel is Hy nogtans barmhartig teenoor ons.

Lees

Mark. 12:30