Jy leef my raak
Philip de Jager
Daar is mense wat 'n groot indruk op ons lewe maak. Mense wat ons raak leef. Hul doen dit deur hulle mooi gesindheid teenoor ons, hulle hulpvaardigheid en hulle fyn ingesteldheid teenoor ons. Daardie mense wat soms so uit die blote vir jou 'n boodskap stuur omdat hulle aan jou dink. Ook daardie mense wat jou aanmoedig om dieper te leef en jou potensiaal uit te leef.
Om mekaar raak te leef is 'n onselfsugtige manier van leef. Dit is 'n manier van leef waarin die een die ander hoër ag as homself. Dit is 'n manier van leef wat daarop ingestel is om mekaar tot liefde en goeie werke aan te spoor – en dan ook nie deur mekaar se suksesse of prestasies bedreig voel nie, maar dit saam met mekaar kan geniet en vier.
Neem vandag die persoonlike besluit: Ek wil die voorbeeld van Jesus uitleef om ander mense raak te leef. In 'n wêreld waar dit soms bleik asof die agenda eerder is om op mekaar te trap en te vertrap en mekaar met woorde te verskeur - neem ek die intensionele besluit om anders te leef. Om mense sagkens raak te leef deur die gesindheid van Jesus Christus uit te leef. Soms sal dit in die verbygaan gebeur en ander male sal dit wees om by mense vir 'n oomblik stil te staan ... vir 'n oomblik of langer - nogtans altyd met die begeerte om hulle deur middel van Jesus se voorbeeld raak te leef.
Lees
Fil. 2:3-5


