Philip de Jager

19 Jan, 2026

Stop. Staan stil. Beleef.

Die lewe is ‘n besige affêre.  Die meeste van ons leef teen ‘n enorme tempo.  Die gevaar van hierdie tempo waarteen ons leef, is dat ons nie ons waardering uitspreek nie; en soms mense se moeite en opofferings as vanselfsprekend aanvaar (lees gerus die vorige plasing: Spreek jou waardering uit). Die ander gevaar en verlies wat ons vanweë die dolle gejaag in die gesig staar, is die kosbare dinge wat ons miskyk.  Nie omdat ons ondankbaar is nie, net omdat ons so vinnig leef en beweeg.  Vriende, die gevaar van die tempo waarteen ons soms leef, is nie net dat ons verby mekaar leef nie.  Maar dat ons ook verby onsself leef.  En die allergrootste risiko in dit alles, die oomblikke waarin ons die hart van Jesus mis – sodat ons meelewend in sy missie kon wees.

STOP!  Hierdie is nie ‘n toegeeteken waar jy net vinnig vir iemand anders ryvoorrang gee nie.  Dit is ‘n doelbewuste en daadwerklike STOP!  Hoofletters.  Uitroepteken!  ‘n Gebiedende opdrag om te STOP!  Nie net om jou spoed te verminder om stadiger verby te gaan nie.  Maar om jou tot stilstand te bring.

STAAN STIL!  Nie net om gou asem te skep nie, maar om tyd te gun vir bewuswording, bewondering en belewenis.  Sien die mooi.  Sien die eenvoud.  Sien die seer.  Sien die behoefte.  Raak bewus van wat rondom jou aangaan.  En ook van dit wat besig is om binne in jou te gebeur.

BELEEF!  Wees teenwoordig.  Nie om planne te beraam nie.  Maar om diep meelewend te wees.  Trek spreekwoordelik jou skoene uit (of doen dit regtig as jy wil), nie net omdat dit ‘n heilige oomblik is nie, maar om jou kaalvoet en pretensieloos met die oomblik in kontak te bring.  Sonder maskers, maar met hart!

En wanneer jy weer jou reis voortsit, moet nie sommerso versnel en jaag nie.  Wees ‘n opmerksame en bedagsame reisgenoot.

Vorige oordenkings

Diep en stiller

Diep en stiller

Philip de JagerWanneer jy na die water luister soos dit oor klippe in die rivier kibbel, is dit dikwels lawaaierig waar die water nie diep is nie.  Waar die water dieper is, is dit dikwels stiller.  Met hierdie beeld in gedagte, wil ek skryf oor dieper en stiller.  In...

Diep en vergenoegdheid

Diep en vergenoegdheid

Philip de JagerIn DV 2026 soek ek nie na groter dinge nie.  Ook nie na meer van dit of meer dat nie.  Ek wil ook nie so besig wees om vir myself naam te maak - dat Jesus sou voel Hy is die gelukkig toeskouer by een of ander 'n celebrity show ... en hopelik kan Hy 'n...

Jy leef my raak

Jy leef my raak

Philip de JagerDaar is mense wat 'n groot indruk op ons lewe maak.  Mense wat ons raak leef.  Hul doen dit deur hulle mooi gesindheid teenoor ons, hulle hulpvaardigheid en hulle fyn ingesteldheid teenoor ons.  Daardie mense wat soms so uit die blote vir jou 'n...