“Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
Fil. 3:14
Ongeag wat jou plan van aksie mag wees, en ongeag die hoop wat jy vir ‘n beter toekoms koester – vandag is deel daarvan. Let op: hoop is nie passief nie. Daarom moet jy nie doelloos en moedeloos sit en wag vir beter dae nie. Kom aan die gang! Begin met wat jy het. Begin waar jy is. Begin vandag. Vandag is die môre waarop jy gister gehoop het. Indien jy ernstig oor jou toekomsdrome is moet jy wakker word om daaraan te werk. Vandag nog. Sommer nou. Om in die oomblik te leef beteken nie dat jy jouself daaraan moet vas leef nie. Daarom moet jy paraat wees om nie toe te laat dat vandag deur jou vingers glip as gevolg van die gemak en genoegdoening van vorige of huidige suksesse nie. Moet ook nie toelaat dat minderwaardigheid en onsekerhede wat jy oor jouself het jou droom in jou versmoor nie. Moet eweneens nie swik onder die druk van ander se teenkanting of weersin wat dikwels spruit uit hulle agterdog of gevoel van bedreigdheid nie. Begin om reeds vandag met ywer en uitnemendheid te werk aan wat jy in die toekoms wil bereik. As jy nou begin; is jy as die Here wil en jy lewe (Jak. 4:15), môre reeds verder as vandag.
Tensy anders vermeld word, word teksverse uit die 33/53 vertaling van die Bybel geneem.
© Leef die Woord