“Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk;”
I Kor. 12:22
Die staaltjie; dit is ‘n storie met ‘n les, word vertel van ‘n man wat elke dag twee kruike water van ‘n rivier af na sy huis aangedra het. Die een kruik het ‘n kraak gehad en al langs die pad het baie water daaruit gelek, en teen die tyd dat hy by die huis aangekom het was dit aansienlik leër as die ander kruik wat vol was. So het die man vir maande aaneen water met die twee kruike aangedra. Die gekraakte kruik was egter skaam en teleurgesteld in homself omdat hy nie dieselfde hoeveelheid water as ander kruik kon lewer nie. So gebeur dit op ‘n dag terwyl die man weer by die rivier is om water met die twee kruike te skep, dat die gekraakte kruik vir die man sê dat hy onwaardig en skaam voel oor homself en dat hy nie geskik is om gebruik te word nie. “Hoekom voel jy so?” het die man gevra. “Waaroor skaam jy jouself?” Die gekraakte kruik het toe geantwoord: “Ek kon vir die afgelope paar maande as gevolg van hierdie kraak nie naastenby die kapasiteit lewer wat ek veronderstel is om te lewer nie. As gevolg van my tekortkoming, kry jy nie volle waarde vir jou pogings nie.” Die man het jammer gevoel vir die gekraakte kruik, en in sy medelye het hy gesê: “Wanneer ons vandag terug huis toe stap, wil ek hê jy moet die pragtige blomme langs die pad raaksien.” Inderdaad, soos hulle na die huis teruggestap het, het die gekraakte kruik die pragtige veldblomme langs die pad sien gesien. Dit het hom ietwat opgebeur, maar aan die einde van die pad het hy steeds sleg gevoel omdat hy soveel water uitgelek het, en het hy weer die man om verskoning gevra vir sy mislukking. Waarop die man vir hierdie gekraakte kruik gesê het: “Het jy opgelet dat daar net blomme aan jou kant van die pad is en nie aan die ander kruik se kant nie? Dit is omdat ek nog altyd van jou kraak geweet het, en ek het dit tot my voordeel gebruik. Ek het blomsade aan jou kant van die pad gesaai, en elke dag terwyl ons teruggestap het van die stroom af, het jy hulle natgelei. Sonder jou – soos jy is – sou ons nie die vreugde van hierdie mooi veldblomme gehad het terwyl ek ‘n glas water uit die ander kruik gedrink het nie.”
Die les wat ons hieruit kan leer is dat ons nie moet dink ons gebreke diskwalifiseer ons om diensbaar te wees nie. Jesus weet in watter hand Hy watter kruik moet dra.
Tensy anders vermeld word, word teksverse uit die 33/53 vertaling van die Bybel geneem.
© Leef die Woord