|

“Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.”

Matt. 12:35

Het dit al met jou gebeur dat jy een of ander kledingstuk in ‘n winkelvenster sien, en dan sommer dadelik by die winkel in stap om dit vir jouself aan te skaf – net om teleurgesteld uit te stap, want dit is nie in voorraad nie.  In hierdie geval is window dressing net voorgee; ‘n advertensie van iets wat nie regtig beskikbaar is nie.  Dit trek aandag, maak jou nuuskierig en selfs opgewonde, maar stel jou op die ou end teleur.

In Matt. 12:33-37 herinner Jesus ons daaraan dat ‘n boom aan sy vrugte geken word. Die vrugte is die woorde wat gespreek word – waarvan die oorsprong in die hart van die mens is.  Dit leer ons dat ons Christenskap van binne af opreg en eg moet wees.  Daarom waarsku Jesus dat wat ons sê en doen, die werklike toestand van ons harte openbaar.  Hy sê: “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Matt. 12:34).  Moet nie misleidende window dressing pleeg nie.  Die waarheid; of is dit eerder die leuen van valse vroomheid, sal uitkom.  Wees eg, want ware geloof en oorgawe dra goeie vrugte – vrugte wat blywend is en ander seën.

Christenskap is nie net ‘n mooi fasade is nie.  Christenskap is ‘n lewe wat deurdrenk is met opregte liefde en gehoorsaamheid aan Christus, waarvan die oorsprong en innerlike motivering diep en eg is, en vanuit ‘n verhouding met Christus spruit.  Voorgee sal uitgevang word, want ons kan net konstant aanhou gee wat ons het.  Om mooi van binne na buite leef is nie misleidende window dressing nie.

Tensy anders vermeld word, word teksverse uit die 33/53 vertaling van die Bybel geneem.
© Leef die Woord