Deur Philip de Jager
Ons het reeds vlugtig aandag aan die betekenis van dissipelskap gegee. Kom ons skenk kortliks aandag aan dissipelskap as geleefde missiologie.
Missiologie het in die mees basiese betekenis daarvan te make met ons deelname aan God se sending, die Missio Dei. In die breë betekenis van Missio Dei verstaan ons dit as ‘n teologiese raamwerk wat intensioneel die fokus van eensydige mens-gesentreerde sendingaktiwiteite verskuif na die veronderstelde waarheid daarvan, naamlik: God wat in ons wêreld betrokke is en dat die Kerk uitgenooi word om deel te neem aan Sy voortdurende werk van verlossing en versoening in die wêreld.
God het nie van die mensdom onttrek nie. Trouens, in en deur die persoon en werk van Jesus Christus demonstreer Hy juis sy bemoeienis met; en ontferming oor, die ganse mensdom. Dink aan daardie immer gewilde teksverse soos Joh. 3:16, 17 en Rom. 5:8. God se sending word steeds voortgesit nadat Jesus vir ons ‘n ewige verlossing teweeggebring het (Hebr. 9:12) en Hy kort voor sy Hemelvaart aan ons die Groot Opdrag gegee het (Matt. 28:19).
Die dissipels van Jesus moet GAAN! om dissipels te maak – en ons moet hiermee besig bly totdat Jesus weer kom. Ons moet dus opmerk: Dissipelskap en ‘n intensionele missionale ingesteldheid (gerigtheid) is onlosmaaklik deel van mekaar. Ons kan die twee duidelik van mekaar onderskei, maar dit kan gewis nie van mekaar geskei word nie. Dissipelskap het wesenlik te make met ons manier van leef in ons navolging van Christus, en ons leef hierdie dissipelskap as gestuurdes uit. Dus dissipelskap as geleefde missiologie.
Wanneer ons aan dissipelskap as geleefde missiologie dink, wil ons mekaar vra: “Sal mense deur die manier waarop ons leef in Christus geïnteresseerd raak?” Is ons getuienis as dissipels van Jesus Christus en die Missio Dei dus met mekaar inpas?
“Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Matt. 5:14-16).
Meer-en-meer soos Jesus