Leef van binne na buite. Oorwinning is nie ‘n plek wat jy bereik nie – dit is ‘n manier van reis.
Deur Philip de Jager
Lyding is ‘n leerskool en jyself bepaal op ‘n deurslaggewende wyse of die lesse wat jy leer jou bitter of beter maak.
“Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly” (Fil. 4:12).
Die leerskool wat ons as gevolg van lyding deurgaan kan goeie vrug in ons lewens tot gevolg en dinge bewerkstellig soos lojaliteit, vasberadenheid, kreatiwiteit, nederigheid, ensovoorts.
Paulus leer ons juis in Rom. 5:3-5 dat die regte gesindheid ten opsigte van lyding in ons guns sal werk.
Petrus verduidelik dat lyding ’n karakter van suiwer goud tot gevolg het (I Pet. 1:7).
Jy kan nie altyd keer wat met jou gebeur nie, nogtans moet jy besef dat jy vir jou gesindheid, gesprekke, gedrag en gewilligheid om genade te betoon verantwoordelikheid moet neem.