“En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.”
I Kor. 12:21
Mense verskil van mekaar. God het ons so mooi en verskillend van mekaar gemaak. Daarom is jy nie die totaal van ander mense se berekening nie, maar jy is die uitdrukking van God se kreatiewe skeppingsvermoë. Verder, verskil ons ook van mekaar as gevolg van die ingrypende invloed wat elkeen van ons se omstandighede en lewensverloop op ons as individue het. Daarom is dit reg en goed dat ons bedagsaam teenoor mekaar sal optree en mooi met mekaar sal werk.
Ons moet versigtig wees wat ons van mense dink en sê. Ons moet waaksaam wees om mekaar nie vanuit ons beperkte insig op een of ander manier uit te kyk en te etiketteer nie. God wil mense gebruik om ander mense te bereik, desgelyks moet ons verstaan dat God elke mens op ‘n merkwaardige manier gebruik juis omdat Hy ons uniekheid hiervoor inspan.
Dink net hoe voorspelbaar en oninteressant sou die lewe gewees het indien ons almal dieselfde was. Net soos dit verkeerd is om te dink dat die lawaaierige ekstrovert geen diepte het nie is dit verkeerd om te dink dat die teruggetrokke introvert nie ‘n betekenisvolle bydrae kan lewer nie. God gebruik nie mense in sy dienswerk as gevolg van ons opinie van hulle of van onsself nie. God gebruik ons in sy dienswerk as gevolg van wie Hy is en hoe Hy ons gemaak het.
Tensy anders vermeld word, word teksverse uit die 33/53 vertaling van die Bybel geneem.
© Leef die Woord