Deur Philip de Jager

20/07/2024

Die laaste en groot opdrag, in Engels die sogenaamde Great Commission, is in alle waarskynlikheid by die meeste van ons nie onbekend nie:  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het(Matt. 28:19).

Maar, wat beteken dit om ‘n dissipels van Jesus Christus te wees?  Kortom en eenvoudig, want dit is beslis nie nodig om dit vir mekaar te kompliseer nie, beteken om ‘n dissipels van Jesus Christus te wees om deur die Meester geleer te word en om voorts sy voorskrifte en instruksies uit te leef.  Dus, om Jesus se lewenswyse ons leefstyl te maak – soos ons dit in die Woord van die Here sien ontvou.  Dit is juis in die lig hiervan dat ons Matt. 11:28-30 moet verstaan:  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matt. 11:28-30).

Jesus maak dit nie vir ons moeilik nie.  Ons eiewilligheid, of die dinge wat ons so maklik omring en waarin ons verstrengel raak, of die vervolging wat ons soms as gevolg van sy mooi en heilige Naam verduur – dit is die dinge waarin ons in ons navolging van Hom uitdagings ervaar.  Nogtans is ons Here getrou.  Hy sal ons nie begewe of verlaat nie, want Hy is met ons al die dae (Matt. 28:20) en niks kan ons uit sy hand ruk nie (Joh. 10:28).

Verder, in ons poging om die betekenis van dissipelskap so eenvoudig as moontlik te probeer verduidelik, is die motief geensins om die waarde, gewig en omvangrykheid van dissipelskap af te water nie.  Vir toegewyde kinders van die Here is die navolging van Christus ‘n gebiedende saak wat ons met erns en noulettendheid nastreef.  Ons herinner ons deurgaans aan die Woorde van ons Here, Jesus Christus: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46).

In ons gesprekke wat volg, gesels ons verder oor die betekenis en omvang van dissipelskap.  Ons gaan ook aan geestelike dissiplines aandag skenk.

Meer-en-meer soos Jesus

Tensy anders vermeld word, word teksverse uit die 33/53 vertaling van die Bybel geneem.
© Leef die Woord