Laat jou lig skyn

Deur Philip de Jager

Jesus het gesê dat ons die lig van die wêreld is en dat ons ons lig moet laat skyn (Matt. 5:14-16).  Dit vereis moed, oortuiging, en ‘n diepgaande liefde vir Jesus.  In ‘n wêreld waar Christenskap soms ontmoedig of verkeerd verstaan word, hou ons die woorde van Rom. 1:16 voor oë:

“Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
[Rom. 1:16]

Hoe lyk dit in die praktyk om getuie vir Christus en die Evangelie te wees?  En waarom is dit belangrik om nie hieromtrent skaam te wees nie?

Getuienis deur Jou Lewe

Om ‘n getuie vir Christus te wees, begin by hoe jy leef.  Jou gedrag, waardes, en keuses moet die toonbeeld wees daarvan dat Christus sentraal in jou lewe is.  ‘n Lewe van liefde, nederigheid, en diensbaarheid is ‘n kragtige getuienis.  Sodoende sal jou lewe is ‘n “lewende Bybel” wees wat ander kan lees; of soos ons in II Kor. 3:3 lees:

“omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.”
[II Kor. 3:3]

Getuienis deur Woorde

Hoewel jou dade spreek, is dit ook belangrik om met ander oor Jesus te gesels. In I Pet. 3:15 word ons aangespoor om altyd gereed te wees om rekenskap te gee omtrent die hoop wat in ons is. Om te getuig beteken nie dat jy ‘n prediker moet wees nie; dit beteken om eenvoudig jou persoonlike verhaal van geloof te deel.  Jou woorde dra hoop en waarheid oor aan mense wat dit nodig het.

Moed om Nie Skaam Te Wees Nie

Om nie skaam te wees om die Evangelie te verkondig en standpunt vir jou Bybelse Christelike oortuigings in te neem nie, eis geloof en vertroue.  Daar sal uitdagings en weerstand wees, maar in Joh. 16:33 lees ons Jesus se bemoedigende woorde: 

“Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
[Joh. 16:33]

Ware getuies leef met die wete dat die Evangelie die krag van God is – die grootste geskenk wat ons kan deel.  Om ‘n getuie vir Christus te wees, is ‘n roeping om jou lig te laat skyn, jou storie te vertel, en dapper in geloof te staan. Skaam jou nie oor die Evangelie nie – dit verander lewens, en jy is deel van God se plan om Sy liefde aan die wêreld te wys.