Saam met mekaar

Deur Philip de Jager

Wanneer ons gesels oor die noodsaaklikheid daarvan dat kinders van die Here tyd saam met mekaar sal spandeer word die woorde van Hebr. 10:25 dikwels aangehaal:

“en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
[Hebr. 10:25]

Ons Christelike geloof is nie bedoel om in isolasie geleef te word nie.  Van die vroegste tye af het gelowiges saamgekom om die Here te aanbid, mekaar te versterk, en die Evangelie uit te leef. In Hand. 2:42 lees ons: “En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.”  Hierdie voorbeeld herinner ons aan die onmisbare rol van gemeenskap in ‘n Christen se lewe.

Geestelike groei word bevorder

Gemeenskap met ander gelowiges help ons om geestelik te groei.  In ons Christelike geloofsgemeenskap leer ons by mekaar, word ons bemoedig om meer soos Christus te wees, en kry ons die kans om geestelike gawes uit te leef.  Saam kan ons Bybelstudies hou, bid, en vrae oor die geloof bespreek.  So word ons geloof verdiep en versterk en geestelike groei bevorder.

Ondersteuning in moeilike tye

Christelike gemeenskap bied ‘n veilige plek vir ondersteuning in tye van swaarkry.  Deur saam te wees, kan ons mekaar bemoedig en help, of dit nou deur gebed, praktiese hulp, of net deur teenwoordigheid is.  Ons moet nie elkeen net na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n (Fil. 2:3, 4).  En dit is juis wanneer ons saam met mekaar is dat ons dit daadwerklik kan doen.

“en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor
[Hebr. 10:24]

Ons getuienis aan die wêreld

Gemeenskap tussen gelowiges is ook ‘n getuienis aan die wêreld. Jesus sê in Johannes 13:35: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Wanneer die kerk as ‘n eenheid funksioneer, weerspieël dit God se liefde en bring dit mense nader aan Hom.