Blydskap is anders as gelukkig wees

Philip de Jager

11/08/2026

Blydskap is anders as geluk.  Geluk is iets wat jou tref.  Blydskap is 'n manier van leef.  Daarom maak blydskap se deure van binne af oop.  'n Blymoedige mens leef van binne na buite.  Daarom kan blymoedige mense 'n tipe vreugde en vrede uitstraal ten spyte van waar hulle is; en ten spyte van dit waardeur hulle gaan.  Blydskap is nie iets wat jy vind aan die einde van 'n soektog nie.  Nee.  Blydskap is 'n manier van reis. Daarom het blydskap ook met vergenoegdheid te make, en sal ons dikwels sien dat hierdie mense hulle brood met eenvoud van hart geniet.  Blydskap en dankbaarheid loop ook hand aan hand.  Hierdie dankbaarheid wat in blydskap gegrondves is spreek van die genoegdoening daarvan om in oënskynlike onbeduidende dingetjies 'n diep tevredenheid te ervaar.  Blydskap kan nie voorgegee word nie, dit spruit uit 'n lewe van oorgawe aan Hom wat ook sorg vir die voëltjies van die hemel en die lelies van die veld beklee.

Lees

Matt. 6:25-34

Vorige oordenkings