Sien mekaar raak

Philip de Jager

17 Jul, 2026

Ons moet nie net van mekaar kennis neem nie; so in die verbygaan hoflik groet en aangaan nie.  Laat ons daarop bedag wees om mekaar raak te sien.  Dit beteken dat ons deeglik van mekaar sal kennis neem, en lank genoeg by mekaar sal stilstaan om betekenisvol met mekaar te connect.  In ons haastige wêreld en besige lewens merk ek tog op dat daar toenemend 'n behoefte bestaan aan verhoudings wat nader en dieper is.  En in plaas daarvan dat ek van ander verwag om eerste na my toe uit te reik, gaan ek eerder na iemand anders toe uitreik.  Die verandering begin by my.  Ek gaan eerste begin gesels, en nie oor my pyn of behoefte nie.  Ek gaan eerste gesels oor wat ek by ander gewaar, sodat ek hulle kan bemoedig of aanmoedig.  Ek gaan nie toelaat dat my selfsug die oomblik skaak nie, ek gaan innig omgee vir ander.  Ek kan nie alles vir almal wees nie, ek gaan ook nie probeer nie.  Maar ek besluit om vandag iewers vir iemand iets te beteken.

"Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself."
[Fil. 2:3]