Jesus, liefling van my siel
Philip de Jager
Jare gelede het ek die liedjie leer ken: Hy's die liefling van my siel, sy Naam is Jesus. Gemeentes het dit besielend gesing en dikwels het die samesang oorgevloei in spontane aanbidding. Dit was oomblikke van diep bewondering vir hierdie Sielsbeminde wat ons Saligmaker is. Hy is ons Jesus. Hy is ons Here. Ja, Hy is aanbiddenswaardig.
God het ons so liefgehad dat Hy sy Seun vir ons gegee het (Joh. 3:16). En Jesus het Homself liefdevol vir ons oorgegee (Ef. 5:2). Groter liefde het niemand as dit nie (Joh. 15:13). Selfs ons liefde vir Hom is nie ons eie maaksel nie, want die belydenis en verklaring van ons liefde vir Hom is die gevolg van sy liefde vir ons. Ja, ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het (I Joh. 4:19).
Vriende, Hy is niks minder as ons totale oorgawe waardig nie. Daardie algehele oorgawe wat verduidelik kan word as 'n liefde "uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag" (Mark. 12:30). Hy was bereid om vir ons te sterf. Sal ons dan bereid wees om vir Hom te leef - en só vir Hom te leef dat ons lewens die getuienis dra dat Hy die liefling van ons siele is?!
Lees
Joh. 3:16
Rom. 5:8
I Joh. 4:19


