
Lag is goeie medisyne
Philip de Jager
Om te lag is goeie medisyne. Dit is selfsorg medisyne. Wanneer laas het jy sommer net lekker gelag ... gelag dat die trane loop? Dit is belangrik dat ons sal lag. En ook - dat ons vir onsself sal lag. Jare gelede het Oom (Pastoor) Pieter Nortjé; wat nogal bekend was daarvoor dat hy 'n grapjas was, vir my gesê: "Philip, as jy nie kan lag nie, gaan jy dit nie maak nie. En jy kan net sowel vir jouself ook lag, want al die ander doen dit." 'n Interessante stuk navorsing het bevind dat lag met 'n betekenisvolle afname in die liggaam se vlakke van kortisol - die hormoon wat met die liggaam se stres reaksie verband hou - geassosieer word. Na aanleiding van hierdie bevinding stel die navorsers voor dat lag as 'n waardevolle aanvullende hulpmiddel kan bydra tot mense se algemene fisiese en emosionele welstand. Dit beteken nie dat lag 'n plaasvervanger vir mediese behandeling is nie, maar dit herinner ons wel daaraan dat God die mens só geskape het dat vreugde 'n positiewe uitwerking op ons liggaam kan hê. Dit laat 'n mens onwillekeurig dink aan die woorde van Spreuke 17:22:
"‘n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ‘n verslae gees laat die gebeente uitdroog."
[Spr. 17:22 (AFR53)]

