Uitnemendheid
Philip de Jager
26/07/2026
Dit is goed en mooi om jouself tot uitnemendheid te verbind. Uitnemendheid spreek van heelhartige toewyding. Uitnemendheid is soos 'n koninklike seël wat die passie van iemand se betrokkenheid by 'n saak bevestig. Uitnemendheid is die innerlike dryf om met dit wat jy tot jou beskikking het die beste te lewer. Uitnemendheid spruit uit die intensionele verbintenis om wat jy ook al doen - soos vir die Here te doen. Uitnemendheid bewerkstellig 'n stuk genoegdoening, want jy geniet wat jy doen en jy doen wat jy geniet. Dit is ook baie duidelik dat uitnemendheid en middelmatigheid nie vennote is nie. Vriende, die volgehoue verbintenis tot uitnemendheid kweek vrymoedigheid; wat ons herinner aan die insiggewende waarneming van Spr. 22:29: "Sien jy ‘n man wat vaardig is in sy werk - hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie." Luister, uitnemend neem jou na plekke waarvan halfhartigheid nog nie eens oor gedroom het nie.
Lees
Spr. 22:29
Kol. 3:22-24

