Die doop
Wat word met doop bedoel?
Wanneer ons oor die doop gesels is dit belangrik dat
ons sal verstaan dat ons gesprek geensins met enige voorkeur ten opsigte van ‘n kerklik dogma te make het nie. Die vraag is dus nie noodwendig: wat glo óns nie? Maar beslis, wat leer die Bybel ons aangaande die doop? Ons keer altyd terug na die Bybel. Dit is baie duidelik dat die Bybel nie oor die doop van gelowiges swyg nie. Trouens, in die Bybel lees ons dat die Nuwe Testament by herhaling waarhede oor die doop noem.
Waarom moet ek gedoop word?
Die kort en eenvoudige antwoord is: Want Jesus het die opdrag gegee (Matt. 28:19; Mark. 16:16). Vriend, die doop deur enkelvoudige onderdompeling is ‘n bevel.
Beslisde orde en betekenis.
Wanneer ons die skrifte bestudeer merk ons baie duidelik op dat daar ‘n besliste orde met betrekking tot die doop gegee word. Ons verwys na die voorafgaande daad, naamlik die wedergeboorte.
Die doop simboliseer ‘n gebeurtenis wat reeds innerlik in die mens plaasgevind het, naamlik die wedergeboorte. Wanneer ‘n gelowige dus gedoop word, simboliseer die “onderdompeling” die afsterwe (begrafnis) van die sondige mens, en wanneer die gelowige uit die water opgetel word, simboliseer dit die opstanding in Christus tot ‘n nuwe lewe (II Kor. 5:17) deur die wedergeboorte (Joh. 3:1-21).
Omdat Christus dan eenmaal gesterf het, eenmaal in die graf gelê was, en eenmaal uit die dood uit op gestaan het — JUIS DAAROM word die gelowige deur enkelvoudige onderdompeling gedoop.
Wat van kinders?
Indien ‘n minderjarige persoon die betekenis van die Christelike doop by wyse van enkelvoudige onderdompeling verstaan, sal ons graag diesulke jongmense doop.
Dit is egter noodsaaklik dat ons daarop wys dat ons nie babatjies doop nie, aangesien hulle nie van hulle geloof getuienis kan gee nie. Gevolglik, wy ons graag kindertjies aan die Here toe (Luk. 18:15-17).
Indien ouers graag hulle kinders aan die Here wil toewy, is hulle welkom om met ons kontak te maak: Ek wil my kind aan die Here toewy
- Jy is ‘n volgeling van Jesus Christus,
- Jy begin ‘n veranderde lewe in Christus,
- en jy is deel van ‘n nuwe geestelike familie.
Indien jy enige verdere vrae oor die doop het, moet asseblief nie huier om met ons kontak te maak nie. Ons wil graag met jou gesels oor hierdie opdrag van ons Here, Jesus Christus. Jy is ook welkom om ons volgende inligtingsessie by te woon wanneer ons met voornemende doopkandidate oor die doop gesels.