
Die anderkant van die binnekant
Philip de Jager
Dit is so maklik om afleidings te maak. Die versoeking is dikwels groot om eerder ons idee van wat in iemand anders se lewe aan die gang is, as die heilige waarheid voor te hou. Dit kan so maklik en vinnig gebeur dat ons met afsku vinger na iemand anders wys. Maar stel ons regtig genoeg belang om uit te vind deur watter dinge mense gaan, en wat die uitdagings of seerkry is waardeur hulle moet werk? Of is ons voor die voet uitgesproke en veroordelend? Dit is so, wat reg is, is reg. En wat verkeerd is, is verkeerd. Maar om genoeg om te gee om by mense stil te staan en uit te vind wat regtig aan die gang is, beteken tog nie dat ons daardeur kondoneer wat miskien verkeerd is nie. "Die anderkant van die binnekant is dalk 'n ander storie" so merk Heleen juis eenkeer op toe ons gesels oor opinies, afleidings en persepsies wat ons soms geneig is om so vinnig te vorm - sonder om van die feite van 'n saak seker te wees. Vriende, kom ons leef dieper. Dit is beter om OP te daag in iemand se lewe as om 'n AFleiding te waag. Mag die Here ons help, om eerder 'n hand uit te steek as om vinger te wys.
"My broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie."
[Jak. 2:1 (AFR53)]

